Jesus het geleer dat God se gesigspunt ten opsigte van die wêreld ten gunste is van diegene wat onderdruk word. Hierdie lering word ook duidelik uit die Bergpredikasie. Jesus sê onder andere: “Baie wat eerste is, sal laaste wees” (Matteus 19:30; Markus 10:31; Lukas 13:30). Hy sê ook: “Elkeen wat nederig is, sal verhoog word” (Lukas 14:11;18:14). Waarom sou God die verdruktes uitsonder en hulle op spesiale wyse behandel? 1. Lyding help ons om te verstaan dat ons verlossing dringend nodig het. 2. Lyding help ons om ons afhanklikheid van God en van mekaar te verstaan. 3. Lyding help ons om tussen noodsaaklikhede en luukshede te onderskei. 4. Lyding help ons om op die evangelie te reageer, want ons word so desperaat dat ons tot die Here om hulp roep. Die armes, diegene wat rou, diegene wat ly, hulle is geseënd (Matteus 5:3-6) want hulle besef elke dag dat hulle nie in hulle eie behoeftes kan voorsien nie. Hulle moet iewers hulp gaan vra. Mense wat ryk en voorspoedig is, aantreklik en suksesvol, mag die lewe deurgaan en op hulle eie gawes en vermoëns vertrou. Maar hulle wat behoeftig is, afhanklik en ontevrede met die situasies waarin hulle verkeer, hulle is meer geneig om God se vrye genadegawe te aanvaar. “Salig is die armes van gees.” Waarom sê Jesus so? “Want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” (Matteus 5:3 OV).