Dit was net ’n stofdeeltjie, ’n splinter, wat op ’n winderige dag deur die lug gewaai het. Ek was besig om ons grasperk te sny en op een of ander manier het die splinter in my linkeroog beland. Vir die volgende paar ure het daardie splinter vir my baie irritasie veroorsaak. Ek het probeer om dit met water uit te spoel. My vrou, Sue, ’n verpleegster, het alles gedoen waaraan sy kon dink maar uiteindelik moes ons na die Mediese Sentrum gaan om hulp te vra. Aanvanklik kon hulle dit ook nie uitkry nie. Dis eers nadat ons salf aangesmeer en nog ’n paar irriterende ure moes wag, dat ek eindelik verligting van die irritasie gekry het. Die klein, hinderlike stofdeeltjie het my opnuut aan Jesus se lering oor kritiek van ander, in Matteus 7, laat dink. My eerste gedagte was dat Jesus se illustrasies baie prakties was. Deur gebruik te maak van die literêre instrument, die hiperbool, of oordrywing, het Hy verduidelik hoe dwaas dit is om ander te kritiseer en nie jou eie foute raak te sien nie. Indien jy die stofdeeltjie in ’n ander se oog kan raaksien, maar die groot stuk hout in jou eie oog heeltemal ignoreer, dan is daar beslis iets verkeerd. Dit behoort ondenkbaar te wees om jou eie foute te ignoreer, terwyl jy ander mense s’n uitwys. So ’n houding van selfvoldaanheid hoort nie by die Christen nie. Dit behoort enige regdenkende persoon te kan insien.