Onlangs was ek besig om saam met ’n paar vriende vis te vang. Ongelukkig beland ek toe in ’n stroom wat te sterk was vir my ou bene. Ek moes van beter geweet het, want dis ’n welbekende feit dat strome soms te sterk kan wees en jy in probleme kan beland. Ek het paniekerig geraak en besef ek is in die moeilikheid. Indien ek nog een tree gegee het, sou ek meegesleur geword het. Ek doen toe die enigste ding waaraan ek kon dink en roep na ’n sterker en jonger vriend daar naby: “Haai, Pieter, help my asseblief, sal jy?” My vriend het in die sterk stroom ingestap, sy sterk hand na my uitgereik en my na die kalmer waters getrek. ’n Paar dae later lees ek toe in Psalm 119 en toe tref vers 173 (OV) my: “Laat u hand my tot hulp wees.” Ek dink toe skielik aan daardie dag in die stroom en ander dae toe ek in “moeilike waters” inbeweeg het, my eie vermoëns oorskat het en in die moeilikheid beland het, dikwels nie net ek nie, maar ook my gesin. Verkeer jy of iemand van jou familie miskien vandag in so ’n situasie? Daar is hulp naby, ’n Vriend wat baie sterker as ek en jy is, en altyd daar is – wie se hand “my vashou” (Psalm 139:10). “U het ’n magtige arm, sterk is u hand, kragtig u regterhand” (Psalm 89:14). Ons kan te enige tyd tot God roep en sê: “Reik my u hand, Here, help my!” Dan sal Hy dadelik daar wees vir jou. Vertrou Hom.
Reik my die hand
Lees: Psalm 139:7-12 Die Bybel In Een Jaar: 2 Kronieke 30-31 Johannes 18:1-18
Laat u hand my tot hulp wees, want ek het u bevele gekies. –Psalm 119:173 (OV)
Wanneer teenspoed kom, is God altyd gereed om ons te versterk.
Vrees nie, Ek is met jou – wees nie ontsteld, Ek is jou God en Ek sal jou help. Ek versterk jou, ondersteun jou en gee krag, Met my sterk hand, elke uur van die dag. –Anon.
Our Daily Bread Topics:
Uncategorized