My Australiese vriend, Graham, was nie blind gebore nie. Nee, hy het na ’n fratsongeluk, toe hy 9 jaar oud was, sy sig verloor. Tog het hy nooit homself bejammer nie. Waar hy ook al gegaan het, het hy altyd vertel wat Jesus Christus vir hom beteken. Sy laaste reis, as praktiserende fisioterapeut was na Thailand. Hy wou nie slegs sy professie daar beoefen nie, maar ook die evangelie uitdra. Die vier melaatses van 2 Konings 7 het ook goeie nuus gehad om uit te dra. Hulle het die Aramese kamp binnegegaan en ontdek dat die kamp verlate was. Nadat hulle genoeg geëet het en heelwat buit versamel het, het hulle aan die mense in Samaria gedink, mense wat besig was om van honger dood te gaan omdat die Arameërs die stad beleër het. Hulle het gesê: “Ons maak nie reg nie. Vandag is ’n dag vir blydskap en ons bly stil” (2 Konings 7:9). Toe gaan hulle en vertel hulle mede-Israeliete dat daar kos beskikbaar was. Ten spyte van hulle fisiese gebreke het sowel Graham as die melaatses aan ander gedink en nie net aan hulleself nie. Hulle was dankbaar vir dit wat hulle gevind het, en het gevoel hulle moes dit met ander deel. Ken jy miskien vandag iemand wat die Here Jesus nodig het? Moenie verskonings maak en sê dat jy nie die vermoë het nie. Nee, gaan en vertel wat die Here vir jou gedoen het en jy sal ontdek dat jou lewe ’n nuwe dimensie aangeneem het.