’n Jong man het aan sy pa gesê: “Pa, ek gaan binnekort trou.” “Hoe weet jy dat jy al gereed is vir die huwelik, Ron?” het sy pa gevra. “ Is jy verlief?” “Ja, Pa, ek is.” Toe vra sy pa: “Maar hoe weet jy dit? Hoe weet jy dat jy regtig verlief is?” “Laasnag toe ek my meisie gegroet en haar gesoen het, het haar hond my gebyt, maar ek het niks gevoel nie totdat ek by die huis gekom het!” Ron het daardie gevoel dat hy liefhet, maar hy sal nog baie moet groei. Vernon Grounds, iemand wat vroeër vir Ons Daaglikse Brood geskryf het en al 70 jaar getroud is, gee die volgende raad hoe om jou liefde te laat groei. Dink na oor God se liefde in Christus. Neem tyd om na te dink oor die feit dat Hy sy lewe vir jou gegee het. Lees alles in verband met Hom in die Evangelies en dank Hom. Bid dat die liefde van God in jou hart uitgestort word. Vra Hom om jou ’n begrip van sy liefde te gee en om jou te leer hoe om jou verhouding met jou eggenoot en ander mense uit te leef (1 Korintiërs 13). Beoefen die liefde van God. Gee van jouself. ’n Persoon wat onlangs getroud is het aan my gesê sy liefde is baie prakties. Hy sê: “My verantwoordelikheid is om die lewe vir my eggenoot makliker te maak.” Die ander, moeiliker aspek van die huwelik is om mekaar uit te daag om as kinders van God te lewe. Liefde sal groei wanneer ons oor liefde nadink, daarvoor bid en dit beoefen.