Dit word gesê dat die Romeinse Ryk op olyfolie gefunksioneer het. Dis gebruik om te kook, om in te bad, as medisyne, vir sekere seremonies, in lampe en as grimeermiddel. Vir dekades is olyfolie vanaf die suide van Spanje na Rome verskeep in groot houers wat amphorae genoem is. Daardie houers is nie teruggestuur nie, maar eenkant gegooi en naderhand was daar ’n hele hoop gebreekte kruike en die area het bekendgestaan as Monte Testaccio. Die stukke van ongeveer 25 miljoen kruike het daardie mensgemaakte heuwel gevorm, wat vandag op die wal van die Tiberrivier in Rome staan. In die antieke wêreld het dié potte geen waarde gehad nie, slegs die inhoud wat hulle bevat het, was kosbaar. As gevolg hiervan kan ons seker wees dat die eerste Christene Paulus se illustrasie van Jesus in die lewe van elke gelowige, goed sou verstaan. “Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie” (2 Kor. 4:7). Ons liggame, soos die amphorae, is tydelik, breekbaar en ontbeerlik. In die moderne wêreld, waar soveel klem op uiterlike skoonheid gelê word, is dit wys om te onthou dat ons grootste skat die Here Jesus is, Hy wat in ons woon. Mag ons, deur die genade van God, so lewe dat ander Jesus in ons kan sien. Ons is maar net kleipotte. Jesus is die ware skat wat in ons is.