Die Italiaanse kunstenaar, Caravaggio, het in 1602 ’n skildery geskilder bekend as The Taking of Christ. Hierdie skildery is ’n vroeë voorbeeld van die Barok styl en besonder indrukwekkend. In donker kleure geskilder, laat dit die kyker nadink oor Jesus se arrestasie in die Tuin van Getsemane. Die twee belangrikste elemente wat die kyker se aandag vereis, is eerstens Judas se soen en dan die beeld van Jesus se twee hande wat saamgevou is en duidelik aantoon dat Hy Hom nie teen die arrestasie verset het nie. Alhoewel Hy die mag gehad het om ’n nuwe heelal te skep, het Christus Homself gewilliglik oorgegee in die hande van die soldate wat Hom na die kruis sou neem. Lank voordat hierdie gebeure plaasgevind het, het Jesus al aan sy volgelinge gesê dat niemand sy lewe van Hom kan wegneem nie – Hy sou dit self neerlê (Johannes 10:18). Hierdie vrywillige oorgawe is reeds jare tevore deur Jesaja beskryf toe hy aangekondig het: “Soos ’n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ’n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie” (Jesaja 53:7). Christus se selfopofferende liefde en die feit dat Hy Homself soos ’n Lam na die slagplek laat lei het, toon aan ons sy magtige liefde: “Niemand het groter liefde as dit nie; dat hy sy lewe vir sy vriende aflê” (Johannes 15:13). Dink net daaraan. Dis hoe lief Jesus jou gehad het. Hoe lief het jy Hom?