Ons vlug was pas 15 minute in die lug toe die loots aangekondig het dat die vliegtuig ernstige probleme het en dat die bemanning dit probeer oplos. ’n Rukkie later is aangekondig dat hulle na die lughawe sou moes terugkeer. Toe het die lugwaardinne oomblik vir oomblik inligting deurgegee en verduidelik wat aan die gang was en wat sou gebeur sodra ons geland het. In ’n voorval wat vreesaanjaend kon gewees het, is die passasiers se vrese verlig omdat hulle die korrekte inligting gekry het. Gedurende die eerste eeu na Christus, het gelowiges in Tessalonika gevrees dat hulle geliefdes, wat as Christene gesterf het, vir altyd weg was en dat hulle nie die wederkoms van Christus sou meemaak nie. Daarom het Paulus aan hulle geskrywe: “Ons wil hê, broers, dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie” (1 Tessalonisense 4:13). Paulus se vertroostende woorde was bedoel om hulle vrese weg te neem deur vir hulle die korrekte inligting te gee, wat al die verskil in die wêreld sou maak. Alhoewel hulle dus oor hulle verlies getreur het, kon hulle nogtans hoop op ’n hereniging met diegene wat in Christus gesterf het. In seisoene wanneer ons probleme beleef en swaarkry kan ons troos en hoop in die Bybel vind. Daar word die korrekte inligting aan ons deurgegee.