William Adams (1564-1620) was glo die eerste Engelsman wat in Japan voet aan wal gesit het. Die Japannese shogun het van Adams gehou en hom as sy persoonlike tolk en adviseur met betrekking tot die Westerse magte aangestel. Uiteindelik is twee swaarde aan Adams gegee en het hy die rang van ’n samoerai gekry. Dit het getoon hoe hoog die Japannese Adams geag het. Omdat Adams sy koning goed gedien het, is hy beloon met ’n groter invloedsfeer. Eeue tevore was daar ’n ander man wat ’n groot invloed in ’n vreemde land uitgeoefen het. Nehemia was die Persiese koning, Artasasta, se skinker (Nehemia 1:11). In die hof moes die skinker altyd die wyn toets voordat dit aan die koning gegee is om te verhoed dat hy dalk vergiftig word. Maar die posisie het ook beteken dat die koning hom vertrou het en gewillig was om na hom te luister. Nehemia se integriteit, sy administratiewe gawes en sy wysheid het daartoe gelei dat die koning hom vertrou het en later gewillig was om hom te laat gaan om die mure van Jerusalem te herbou. Net soos Nehemia het elkeen van ons ’n bepaalde terrein waarop ons invloed kan uitoefen. Die opvoeding van ons kinders, diens by die kerk of in die gemeenskap, of die spesifieke beroep wat ons beklee – dis geleenthede om ander mense te beïnvloed. Het God miskien iemand in jou lewe geplaas op wie jy ’n invloed kan en moet uitoefen?