Toe ’n tiener, Poh Fang, gehoor het van Jesus se liefde vir haar en Hom as haar Verlosser aangeneem het, was haar ouers nie so seker of die Christendom meriete het nie. Toe stuur hulle haar ouer suster saam met haar kerk toe om ’n ogie oor haar te hou. Maar toe gebeur daar iets wat hulle nie verwag het nie. Die kragtige Woord van God het die hart van die ouer suster binnegedring en sy het ook tot bekering gekom en Jesus aangeneem. Die psalmdigter sê van die Bybel: “Deur [u woord] … het U my in die lewe gehou” (Psalm 119:93). Dis ook die getuienis van Poh Fang en haar suster en almal wat Jesus as hulle Verlosser aangeneem het. Sy woord is “kragtig [en] skerper as enige swaard … en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees” (Hebreërs 4:12). Die Bybel wys ons op ons sondes en die gevolge daarvan. “Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie” (Romeine 3:23). “Die loon wat die sonde gee, is die dood” (Romeine 6:23). Dit vertel ons van God se liefde en sy redding: “God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief … [Hy het ons] saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!” (Efes. 2:4,5). Dit gee ons ook wysheid sodat ons reg kan lewe: “U woord is die lamp wat my die weg wys” (Psalm 119:105). Baie dankie dierbare Here vir u magtige woord, die Bybel, wat ons leiding gee sodat ons elke dag reg kan lewe.