Die pianis, Leon Fleisher, was slegs 16 jaar oud toe hy sy debut in Carnegie Saal saam met die New Yorkse filharmoniese orkes gemaak het. Hy het voortgegaan om belangrike internasionale kompetisies te wen en het in die wêreld se belangrikste konsertsale opgetree. Toe hy 37 jaar oud was het hy ’n siekte opgedoen wat daartoe gelei het dat sy regterhand verlam is. Na ’n tydperk van mismoedigheid en depressie het hy eindelik begin klasgee en dirigeer, want, soos hy gesê het, hy het musiek liewer gehad as die klavier. Wanneer ons drome teleurstel en ineenstort, hoe reageer ons? Nadat Josef, Jakob se geliefde seun, deur sy broers verkoop is, (Genesis 37:12-36) kon hy moedeloos en depressief geraak en homself bejammer het. Maar in plaas daarvan het hy getrou aan die Here gebly. Ons lees vier keer in Genesis 39 dat “die Here by Josef was” (vs. 2,3,21,23). Sy optrede het getoon dat hy getrou aan die Here gebly het. Deur sy voorbeeldige lewe het diegene vir wie hy gewerk het gesien dat die Here by hom was. Het ons die Here liewer as selfs ons mooiste drome? Alhoewel Josef seker swaar gekry het as gevolg van dit wat met hom gebeur en alles wat hy verloor het, het die Here hom geroep vir ’n taak wat hy nooit moontlik geag het nie. Vandag nog verlang die Here om sy kinders te lei. Is ons gewillig dat Hy vir ons die pad aandui?