Die argeoloog, Barbara Mertz, lê ’n klag teen Egipte se Farao, Rameses 11. In haar boek Temples, Tombs and Hieroglyphs skryf sy: “’n Mens word so moeg vir Rameses; sy gesig, sy figuur en/ of sy naam word oral, op feitlik alle mure wat nog bestaan, aangetref – ten minste dit lyk vir my so.” Hy het ’n onversadigbare honger na roem gehad en gevolglik het hy die Egiptiese godsdiens waardeer, wat die farao as ’n goddelike figuur beskou het. Wat ’n kontras tussen Rameses se houding en dié van Paulus en Barnabas. Op een van hulle sendingreise wou die mense hulle as gode aanbid maar hulle het geweier om enige lof te ontvang. Toe ’n skare in die stad Listra gesien het hoedat hulle ’n kreupel man genees, het hulle uitgeroep: “Die gode het soos mense geword en het na ons toe afgekom!” (Hand. 14:11). Hulle wou diere tot eer van Paulus en Barnabas offer. Maar die twee het beswaar gemaak en gesê: “Mense, wat vang julle nou aan? Ons is maar net sulke mense soos julle. Ons bring vir julle die goeie boodskap dat julle hierdie sinlose gode moet laat staan en julle tot die lewende God bekeer” (Hand. 14:15). Ons is nie daar om met die apostels te kompeteer in dit wat ons vir die Here doen nie. Nee! Tog doen ons almal dade vir die Here. Maar dis juis dan dat ons seker moet maak dat ons weerkaatsers van sy heerlikheid is en dat Hy alleen die eer ontvang.