I ewers langs die ou Oregon Roete is daar ’n monument – ’n reuse lawarots wat bekend staan as Register Rock. Dis geleë in die gebied wat destyds ’n gewilde kampterrein vir immigrante was, mense wat gedurende die 19de eeu weswaarts gereis het op soek na ’n nuwe wêreld. Reisigers het dikwels hulle name op die rots uitgekerf as ’n herinnering daaraan dat hulle langs dié roete gereis het. Register Rock staan vandag daar as ’n monument wat van hulle moed en volharding getuig. Wanneer ek aan Register Rock dink, gaan my gedagtes altyd na ander pelgrims wat ons op die lewensweg verbygegaan het. Hebreërs herinner ons aan sommige van daardie geharde siele – Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid en Samuel om net ’n paar te noem. Maar daar is nog ander pelgrims uit die onmiddelike verlede, soos my dierbare ouers, my Sondagskoolonderwyseres mev. Lincoln, my jeugleier John Richards, my mentors, Ray Stedman en Howard Hendricks … en nog baie ander. Hulle het miskien nie hulle name op ’n rots ingraveer nie, maar hulle name is in my geheue vasgelê. Die skrywer van Hebreërs herinner ons daaraan dat ons die pelgrims wat ons vooruitgegaan het, moet onthou, veral diegene wat “die woord van God aan julle verkondig het”. Ons moet op hulle optrede let en die voorbeeld wat hulle gestel het, navolg (Hebreërs 13:7). Hy moedig ons aan om hulle geloof na te volg.