Die Puriteine wou alles in die wêreld met God verbind en sodoende die heilige en die sekulêre byeenbring. Hulle het ’n gesegde gehad wat so lui: “God is lief vir bywoorde; Hy gee nie om hoe goed iets is nie, maar hoe goed dit gedoen word.” Bywoorde beskryf werkwoorde – woorde wat ons optrede uitbeeld. Die gesegde van die Puriteine impliseer dat God meer omgee vir die gees waarin ons lewe as vir die konkrete resultate. Om die Here te plesier beteken egter nie dat ons ’n nuwe stel “geestelike” aktiwiteite moet ontwerp nie. Soos die Puriteine dit gestel het: óf ons besig is om huis skoon te maak, preke te lewer, handewerk te doen, óf die Bybel te vertaal – enige menslike aktiwiteit kan so gedoen word dat dit ’n offergawe aan God is. Ons spandeer baie tyd aan wêreldse dinge. “Maar ons, ons het die Gees van Christus” (1 Korintiërs 2:16) sê Paulus. Dis asof hy ons daaraan wil herinner. Daardie waarheid moet alles wat ons doen reguleer. Om ’n kindjie se vuil gesiggie te was, of op die voorstoep met ’n buurman te sit en gesels, of na ’n kliënt se klagtes te luister, in ’n hospitaal besig te wees om state in te vul, in die verkeer vas te sit, hout te saag of inkopies te doen – ja, alles wat ons doen moet vir Jesus gedoen word. Ons het geloof nodig en die “Gees van Christus” om agter te kom wanneer iets blywende waarde het, selfs in die gewone dagtakies.