Jy kan nou reeds jou kalender merk as jy
graag wil sien wanneer Venus, Jupiter
en die maan weer ineenloop. Dit sal op 8
November 2052 gebeur en dan sal jy deur
die nagtelike duisternis kan kyk en sien
hoe daardie hemelliggame in ’n klein area
saamkom. Hierdie opmerklike naasmekaarstelling
van hierdie hemelliggame
het laas op 1 Desember 2008 gebeur en dit
sal weer na vier dekades plaasvind.
Die feit dat hierdie gebeure vooruit
bepaal kan word, soos ook die terugkeer
van Halley se komeet (28 Julie 2061)
bewys aan ons dat daar reëlmaat en orde
in die heelal is. As daar nie vaste reëls vir
die beweging van die hemelliggame was
nie, sou sulke besliste voorspellings nie
gemaak kon word nie.
Is hierdie reëls maar net toevallighede?
Of kan ons die hand van die Here in
hierdie hemelse sekerhede sien? Lees
gerus weer Jeremia 33:25 en 26. Die Here
praat oor die verbond wat Hy met sy volk het en dan verwys Hy
na hierdie wetenskaplike feite in die hemelruim. God sê Hy het
die wette vir die hemelruim vasgestel en net so seker as wat
daardie wette is, so seker is ook sy beloftes aan sy verbondsvolk.
God is in beheer van die hemelruim vanaf die skepping en dit
sal so voortduur totdat Hy weer op die wolke kom. Dit is absoluut
voorspelbaar. Daarom kan jy met gerustheid jou kalender merk en
verstom staan oor die onveranderlikheid en grootheid van God.