Die beroemde prediker F.B.Meyer het eenmaal vir die evangelis D.L. Moody die volgende vraag gevra: “Wat is die geheim van jou besondere sukses?” Moody het geantwoord: “Vir baie jare lank het ek nooit ’n boodskap gelewer sonder die bewustelike afwagting dat die Here mag kom voordat ek klaar is nie.”
Een van die wonderlikste leringe in die Bybel is dié van Jesus se terugkeer na hierdie ou wêreld toe. Toe God op die punt was om sy goddelike openbaring aan die mens af te sluit, het Hy die aandag op hierdie waarheid gevestig en in die woorde van Jesus self aangekondig: “Ja, Ek kom gou!”
Die woorde van ons Here Jesus herinner ons daaraan dat Hy terugkeer vir ons. Met hierdie kragtige versekering aan die einde van die Bybel kan ons hierdie hoop voortdurend in ons omdra. Die vooruitsig om die Verlosser te sien, soos Hy te wees en vir ewig by Hom te wees, behoort ons te motiveer om vir Hom te werk soos wat Moody gedoen het.
In hierdie sondige wêreld is dit so maklik om die opwaartse blik te verloor. Tog moet ons die hoop op Christus se terugkeer voortdurend in ons harte omdra. Paulus het ook hieroor gepraat: “Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag” (Filippense 3:20).
Die hoop omsluit in sy laaste woorde “Kyk Ek kom gou!” behoort ons te motiveer om tot sy eer te lewe. – Paul Van Gorder