Sedert daardie eerste Kersdag meer as 2,000 jaar gelede, het die versekering dat God by sy volk is ’n nuwe betekenis gekry. Voordat Jesus gebore is, was die Israeliete verseker dat hulle selfs in die oordeel nog hoop kon hê omdat God by hulle was (Jesaja 8:8,10). Nogtans het hulle God nie so volkome geken as wat ons Hom vandag ken nie. Ons het ’n groot voorsprong bo die Ou Testamentiese gelowiges, want deur die lees van die Nuwe Testament kan ons “die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal” (2 Kor. 4:6) sien. Ons kan sy teenwoordigheid in alle situasies aanvoel omdat die Heilige Gees by ons is.
Wanneer ek die behoefte het om aan te voel dat God by my is, dink ek aan Jesus toe Hy die kindertjies in sy arms geneem en hulle geseën het (Matteus 19:13-15). Ek dink aan die kruisiging en sien sy bloedbesmeerde gelaat. Dit alles herinner my aan wat Hy vir my gedoen het. En dan reflekteer ek ook oor sy wonderlike belofte: “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matteus 28:20). Dan voel ek sommer geestelik opgebeur.
God het in die gestalte van ’n mens na die aarde gekom toe Jesus in Betlehem gebore is. Almal wat op Hom vertrou kan nuwe moed en krag vir elke situasie vind. Waarom? Omdat die geboorte van Jesus Christus nuwe betekenis aan die naam Immanuel gee.

Herb Vander Lugt