’n Japannese man het ’n probleem gehad – hy was bang om sy huis te verlaat. Om mense te vermy het hy bedags geslaap en snags wakker gebly en TV gekyk. Hy was ’n hikikomori of ’n hedendaagse kluisenaar. Sy probleem het begin toe hy skool staak a.g.v. swak punte. Hoe langer hy uit die samelewing gebly het, hoe meer het hy soos ’n sosiale mislukking gevoel. Uiteindelik het hy alle kommunikasie met vriende en familie verbreek. Hy is op sy reis na herstel gehelp, deur ’n besoek aan ’n jeugklub in Tokio, bekend as ’n ibasho – ’n veilige plek waar gebroke mense hulself met die samelewing kan begin herenig. Wat sal gebeur as ons aan die kerk as ’n ibasho dink? Sonder twyfel is ons ’n gemeenskap van gebroke mense. Toe die apostel Paulus aan die gemeente in Korinte
skryf, het hy hulle vorige lewenswyse as anti-sosiaal, skadelik en gevaarlik vir hulself en andere, beskryf
(1 KOR. 6:9-10). Maar in Jesus het hulle verander en is gered. En Paulus het dié mense aangemoedig om mekaar lief te hê, lankmoedig en vriendelik te wees, nie jaloers of trots of onbeskof te wees nie (13:4-7). Die kerk moet ’n ibasho wees waar almal, ongeag die beproewinge of gebrokenheid wat ons in die gesig staar, die liefde van God kan ken en ervaar. Mag die gebrokenes die deernis van Christus, vanaf almal wat Hom volg, ervaar.