My vriendin het in die ry gestaan om haar kruideniersware te betaal toe die man voor haar omdraai en haar ’n geskenkbewys van R170 korting op haar rekening gee. Sy was moeg en het in trane uitgebars as gevolg van sy vriendelike daad, en daarna vir haarself gelag oor haar gehuilery. Dié onverwagse goeie daad het haar aan die hart gegryp en haar tydens ’n fase van uitputting met hoop gevul. Sy het die Here gedank vir Sy goedheid jeens haar deur iemand anders.

Om te gee, was ’n tema waaroor die apostel Paulus aan die nie-Joodse Christene in Efese geskryf het. Hy het hulle opgeroep om hul ou lewe agter te laat en die nuwe te omhels – want hulle is uit genade gered. Uit hierdie reddingsgenade, het hy verduidelik, vloei ons begeerte om “goeie dade” te doen omdat ons volgens God se beeld geskep is en die werk van  Sy hande is (2:10). Ons kan, net soos die man in die supermark, God se liefde deur ons alledaagse dade uitdra.

Ons hoef natuurlik nie materiële dinge te gee om God se genade te demonstreer nie – ons kan dit op vele ander maniere doen. Ons kan luister wanneer ander met ons gesels. Ons kan iemand wat ons bedien vra hoe dit gaan. Ons kan gaan staan en iemand help wat in nood verkeer. Wanneer ons aan ander gee, ontvang ons blydskap as die vrug daarop (Handelinge 20:35).