Terwyl Caitlyn saam met vriende in die Golf van Mexiko geswem het, het ’n haai haar aangeval. Sy het die haai op die neus geslaan, waarna die roofdier haar laat los en weggeswem het. Hoewel sy heelwat wonde gehad het – dit het meer as 100 steke vereis – kon die haai Caitlyn nie in sy greep gevange hou nie.

Dit laat my dink aan Jesus wat die dood ’n hou toegedien het en daarmee die krag om Sy volgelinge te intimideer en te verslaan, beëindig het. Petrus het aan ’n skare in Jerusalem gesê dat dit “vir die dood onmoontlik (was) om Hom gevange te hou” (Hand. 2:24).

Dalk was daar onder hulle dié wat Hom wou veroordeel en uitgeroep het: “Kruisig hom!” (Matt. 27:22). Die Romeinse soldate het Hom aan die kruis vasgespyker totdat hulle Sy dood kon bevestig. Sy liggaam het 3 dae lank in ’n graf gelê totdat God Hom opgewek het. Ná Sy opstanding het Petrus en ander met Hom gepraat en saamgeëet, en ná 40 dae het hulle Hom na die hemel sien opvaar (Hand. 1:9).

Jesus het onder liggaamlike lyding en sielspyn gesterf, tog het God se krag die graf oorwin. Daarom is die dood – of enige ander stryd – nie in staat om ons vir altyd in sy greep te hou nie. Alle gelowiges sal eendag die ewige lewe asook volmaaktheid in God se teenwoordigheid belewe. As ons só na die toekoms kyk, kan ons nou reeds in vryheid lewe.