Ek het waardering vir die vreesloosheid van my tante Gladys, selfs al bekommer ek my soms daaroor. Die oorsprong van my kommer het in die vorm van haar e-pos gekom: “Ek het gister die okkerneutboom afgesaag.”
Jy moet mooi verstaan dat my tante met die kettingsaag 76 jaar oud is! Die boom het agter haar motorhuis opgekom. Toe die wortels die sement begin kraak en oplig, het sy besef dat dit moet uit. Sy het ons egter vertel: “Ek bid altyd eers voordat ek so ’n taak aanpak.”
Terwyl Nehemia tydens Israel se ballingskap diens gedoen het as die koning van Persië se skinker, het hy nuus gekry oor die mense wat in Jerusalem was. Dáár was werk wat gedoen moes word: “Die muur van Jerusalem lê om, en die stadspoort is verbrand” (Nehemia 1:3). As gevolg van die stukkende muur was hulle kwesbaar vir die aanvalle van hul vyande. Nehemia het omgegee vir sy mense en wou betrokke raak. Maar eers moes hy bid, veral sedert ’n nuwe koning ’n brief geskryf het om die pogings om Jerusalem te herbou, te verhoed (Esra 4). Nehemia het vir sy volk gebid (Nehemia 1:5–10), en daarna God om hulp gevra voordat hy verlof by die koning gevra het om hom te laat gaan (vs. 11).
Is gebed ook jóú antwoord? Dit is vir seker die beste manier waarop ’n mens enige taak of beproewing in hierdie lewe kan aanpak.