Vrees kan verlam. Ons weet presies wat ons angsbevange maak – al die seerkry van die verlede, asook alles wat dit weer so maklik kan doen. Soms steek ons vas – ons kan nie teruggaan nie, maar is ook te bang om vorentoe toe beweeg. Ek kán nie. Ek is nie goed, sterk of dapper genoeg om weer só seer te kry nie.

Frederick Buechner se verduideliking van God se genade gryp my aan die hart – dis soos ’n sagte stem wat sê: “Dít is die wêreld. Slegte asook goeie dinge gebeur. Moenie bang wees nie. Ek is by jou.”

Slegte dinge sal gebeur. In ons wêreld maak mense wat seer het ander seer, soms baie erg. En nes koning Dawid, het ons ons eie verhale van die boosheid wat ons omring het: wanneer “mense wat my wil verskeur,” ons leed aangedoen het. Dít is waarom ons rou, en uitroep (vv. 2-3, 5).

Maar omdat God by ons is, gebeur daar ook mooi dinge. Wanneer ons met ons seer en vrees na Hom toe gaan, vind ons dat ’n liefde wat veel groter is as enigiemand se mag om ons seer te maak, ons dra (vv. 2-4) – ’n liefde so diep dat dit tot in die hemel reik (vs. 10). Selfs wanneer rampe rondom ons afspeel, is Sy liefde ’n vaste skuilplek waar ons harte weer genees word (vv. 2, 8). Totdat ons op ’n dag hernude moed in ons ontdek, en gereed is om die dag wakker te maak met ’n lied oor Sy getrouheid (vv. 9–11).