“Moet my nie los nie, Pa!”

“Ek sal nie. Ek het jou. Ek belowe.”

Ek was ’n klein seuntjie en baie bang vir die water, nogtans wou my pa my leer swem. Hy het my doelbewus van die kant van die swembad af geneem na ’n diepte waar die water oor my kop kon kom. Daar was hy my enigste pilaar, en daar het hy my geleer om te ontspan en te dryf.

Dit was nie bloot ’n swemles nie, maar ’n les oor vertroue. Ek het geweet dat my pa my liefhet en nooit sou toelaat dat ek opsetlik beseer word nie, tog was ek ook bang. Ek het styf aan sy nek geklou totdat hy my verseker het dat alles goed sou verloop. Uiteindelik het sy geduld en goedheid vrug afgewerp en het ek begin swem. Maar ek moes hom eers vertrou.

Wanneer dit voel asof ’n probleem my onderkry, dink ek dikwels terug aan daardie tye. Dit help my om die Here se belofte aan Sy mense te onthou: “Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou, julle dra en julle red” (Jes. 46:4).

Ons is dalk nie altyd in staat om God se arms onder ons te voel nie, maar die Here het belowe dat Hy ons nooit sal verlaat nie (Heb. 13:5). Wanneer ons in Sy versorging en beloftes rus, leer Hy ons om op Sy getrouheid te vertrou. Hy lig ons ver bo ons sorge uit sodat ons nuwe vrede in Hom kan ontdek.