Die lirieke van die Engelse wiegeliedjie: “Twinkle, twinkle, little star,” was oorspronklik ’n gedig deur Jane Taylor. Dit vertel van die sterre wat hoog bokant die wêreld hang, en vang die wonder van God se heelal vas. In die verse wat volg, en weinig gepubliseer word, dien die ster as ’n gids: “As your bright and tiny spark lights the traveller in the dark.”
In Filippense daag Paulus die gelowiges in Filippi uit om bo verdenking en onberispelik te bly terwyl hulle “as ligdraers in die wêreld” optree “deur die woord van die lewe uit te dra” (2:15–16). Hoe kan óns as sterre skitter? Ons voel dikwels ontoereikend en sukkel om te glo dat ons “lig” helder genoeg is om ’n verskil te maak. Sterre probeer egter nie om sterre te wees nie. Hulle ís sterre. Lig verander ons wêreld … en óns. God het ons wêreld met natuurlike lig verlig (Gen. 1:3), en deur Jesus het Hy geestelike lig in ons lewens gebring (Joh. 1:1–4).
Óns, wat God se lig in ons omdra, behoort so te skitter dat die mense om ons lig sien en aangetrek word na die bron toe. So moeiteloos as wat ’n ster aan die naghemel hang, maak ons lig ’n verskil op grond van wat dit is: Lig! Wanneer ons bloot skyn, volg ons Paulus se opdrag om “die woord van die lewe uit te dra” in ’n duister wêreld en trek ons ander aan na die bron van ons hoop: Jesus.