Haar e-pos het ná ’n lang dag gekom, tog het ek dit nie oopgemaak nie. Ek was druk besig om ’n siek familielid by te staan. Daar was dus nie tyd vir sosiale afleiding nie.

Die volgende oggend het ek my vriendin se boodskap gelees: “Kan ek jou help?” Heel verleë wou ek Nee antwoord. Ek het my asem diep ingetrek … en opgemerk dat haar vraag bekend, indien nie goddelik nie, klink.

Want Jesus het ’n soortgelyke vraag gevra toe Hy Bartimeus, ’n blinde bedelaar, op die Jerigopad na Hom hoor roep het:  Kan Ek help? Oftewel: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” (Mark. 10:51).

Dis ’n treffende vraag. Dit wys die Geneesheer, Jesus, wil ons graag help. Maar eers word ons uitgenooi om nederig te erken dat ons Hom nodig het. Bartimeus die “professionele” bedelaar was regtig behoeftig: arm, eensaam en dalk honger en bedruk. Hy het ’n nuwe lewe begeer en het Jesus van sy mees basiese behoefte vertel: “Rabboeni, dat ek kan sien” (10:51).

Dit was ’n blinde se opregte pleidooi. Jesus het hom dadelik genees. My vriendin het dié soort eerlikheid van my verwag. Ek het haar dus belowe dat ek sou bid om te verstaan wat my basiese behoefte is en, nog belangriker, haar eenvoudig te vertel. Wat is jou grondliggende behoefte vandag? As ’n vriend jou vra, vertel hom. Neem jou pleidooi daarna selfs hoër. Vertel vir God.