Ek buig my hoof, sluit my oë, vleg my vingers en begin bid. My oë vlieg oop. Ek onthou skielik dat my seun se geskiedenisprojek wat die volgende dag ingehandig moes word, nog nie voltooi is nie. Dan onthou ek van sy basketbalwedstryd na skool en ek stel my voor dat hy seker tot middernag met sy skoolwerk sal besig wees. Ek bekommer my dat sy gepaardgaande moegheid hom maklik vir griep vatbaar kan maak.
C.S.Lewis het in sy boek The Screwtape Letters na afleidings tydens gebed verwys en opgemerk dat wanneer ons gedagtes begin dwaal ons geneig is om ons wilskrag in te span om ons gedagtegang na die oorspronklike gebed terug te lei. Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat dit beter is om die afdwaling as ’n probleem te aanvaar, dit voor God te lê en dit dan die hooftema van ons gebed te maak.
’n Aanhoudende bekommernis of selfs sondige gedagte wat ’n gebed onderbreek mag dalk die hooftema van ons gesprek met God word. God verlang dat ons opreg sal wees as ons met hom praat en dat ons ons bekommernisse, vrese en worstelinge met Hom sal deel. Hy word nie verras deur enigiets wat ons mag opper nie. Sy belangstelling in ons is soos die aandag wat ons van ’n goeie vriend ontvang. Daarom word ons aangemoedig om al ons bekommernisse en sorge vir God te gee – Hy gee om vir ons (1 Petrus 5:7).