Ek het reeds op hoërskool vir die universiteit tennis gespeel en baie ure van my jong lewe op die vier sementbane, wat nie ver van ons huis geleë was nie, deurgebring. Ek het net een doel voor oë gehad en dit was om my spel te verbeter.
Tydens my laaste besoek aan die stad waar ek opgegroei het, kon ek nie wag om by die ou tennisbane verby te ry nie. Ek het gehoop dat ek ander daar sou sien speel net om weer ou herinneringe vir oulaas op te roep. Maar die bane was nie meer daar nie. Al wat daar was, was ’n verlate oop stuk veld wat deur wuiwende onkruid ingeneem is.
Daardie middag sal my altyd as ’n herinnering aan die kortstondigheid van die lewe bybly. Een van die plekke waar ek as jong seun meeste van my tyd en krag bestee het, het nie meer bestaan nie! Terwyl ek later oor hierdie ondervinding nagedink het, het dit my aan die bejaarde Koning Dawid se woorde herinner toe hy gesê het: “Die mens, sy lewensduur is soos dié van gras, soos dié van ’n veldblom wat oopgaan: As die woestynwind daaroor waai is dit weg en sy plek is altyd leeg. Maar onverganklik is die liefde van die Here vir dié wat Hom dien” (Psalm 103:15–17).
Ons word ouer en die wêreld om ons kan verander, maar God se liefde sal nooit verander nie. Ons kan Hom vertrou om altyd vir hulle wat na Hom draai, te sorg.