Liggaambouers volg baie streng oefenprogramme tydens kompetisies. Hulle begin deur gewig aan te sit en op kragtoename te fokus. Dan weer op die verlies van vet en die inname van en minder voedsame kossoorte sodat die spiere meer sigbaar is. Hulle is dan, ten spyte van hulle sterk voorkoms, op hulle swakste op die dag van die kompetisie.

In 2 Kronieke 20 lees ons van ’n teenoorgestelde realiteit: die erkenning van swakheid ten einde God se krag te ondervind. Aan Koning Josafat is berig: “’n Groot menigte … het teen U opgetrek.” Sy reaksie: “Hy het ’n vasdag in die hele Juda uitgeroep” (vs. 3) en daardeur homself en al sy mense van enige voedsel ontsê en God gevra om hulle te help. Nadat hy sy eie leërmag aangetree het, het Josafat lofprysende sangers aan die voorpunt opgestel (vs. 21). Toe die sangers met hulle lofprysing begin, het die Here “onverwagte aanvalle bewerk teen die mense … wat teen Juda opgetrek het en hulle het die een neerlaag na die ander gely” (vs. 22).

Josafat se besluit het ’n diepe geloof in God gedemonstreer. Hy het doelbewus gekies om nie op sy eie menslike en militêre dapperheid te vertrou nie en om eerder op God te steun. Laat ons in moeilike tye eerder na God draai en Hom toelaat om ons krag te wees as om self ons pad deur beproewinge te probeer baan.