In ons woonbuurt omring hoë mure ons huise. Baie van die mure is selfs met geëlektrifiseerde doringdraad verhoog. Die doel? Om rowers buite te hou.
Gereelde kragonderbrekings in ons gemeenskap het tot gevolg dat hek-klokkies dan ook buite werking is. As gevolg van die mure en kragonderbrekings kan dit gebeur dat ’n besoeker in die bloedige son of gietende reën moet staan. Alhoewel die mure ’n goeie doel dien, kan hulle tog mure van diskriminasie word.
Die Samaritaanse vrou wat deur Jesus by die put ontmoet is, het ’n soortgelyke probleem met diskriminasie ondervind. Die Jode wou niks met Samaritane te doen gehad het nie. Toe Jesus haar vra vir ’n bietjie water was haar antwoord: “Hoe vra jy wat ’n Jood is vir my, ’n Samaritaanse vrou, water om te drink?” (Johannes 4:9) Maar soos wat sy haar hart teenoor Jesus begin oopmaak het, het sy ’n lewensveranderende ondervinding wat beide haarself, en later ook haar bure, positief beïnvloed het, ervaar (vv. 39–42). Jesus het die brug geword wat die mure van vyandigheid en partydigheid afbreek.
Ons kom soms in die versoeking om te diskrimineer. Dit is dan nodig dat ons dit sal erken. Soos wat Jesus dit aan ons getoon het, kan ons na alle mense uitreik, ongeag nasionaliteit, sosiale aansien of reputasie. Hy het gekom om brûe te bou.