Van die kansel af, waar ek deelgeneem het aan die verrigtinge by ’n begrafnis, kon ek die koperbordjie sien met die woorde van Johannes 12:21 daarop: “Meneer, ons wil Jesus graag ontmoet.” Inderdaad, het ek gedink, dat ons Jesus kon sien in die vrou wat ons vandag met lag en trane vier. Hoewel sy uitdagings en teleurstellings die hoof moes bied, het sy nooit ophou glo in Christus nie. Omdat God se Gees in haar gewoon het, kon ons Jesus sien.

Die Johannes-evangelie vertel hoedat Jesus Jerusalem binne gery het (sien 12:12–16). Van die Grieke het na Filippus gegaan en gevra: “Meneer, ons wil Jesus graag ontmoet” (vs. 21). Dalk was hulle net nuuskierig oor Jesus se genesings- en wonderwerke, maar omdat hulle nie Jode was nie, is hulle nie in die binnehowe van die tempel toegelaat nie. Toe hulle versoek by Jesus uitkom, het Hy aangekondig dat Sy uur van verheerliking aangebreek het (vs. 23). Daarby het Hy bedoel dat Hy vir die sonde van baie sou sterf. Hy sou Sy sending om nie net die Jode nie maar ook die nie-Jode (“Grieke” in vs. 20) te bereik, volbring, sodat hulle Jesus sou ontmoet.

Ná Sy dood het Jesus die Heilige Gees gestuur om in Sy volgelinge te woon (14:16–17). Wanneer ons Hom liefhet en dien, sien ons Hom in aksie in ons lewe. En – wonderbaarlik – dié om ons kan ook vir Jesus sien!