Dis bevredigend om ’n taak af te handel. Byvoorbeeld, gedurende elke maand word een van my werksverpligtinge van “Vordering” na “Voltooi” aangeskuif en die “Voltooi-”sleutel gedruk. Terwyl ek dit verlede maand gedoen het, het ek gedink: As ek maar die uitdagings in my geloofslewe so maklik kon oorkom! Dit lyk asof die Christen se lewe altyd vorder, maar nooit voltooid is nie.
Ek het Hebreërs 10:14 onthou. Dit beskryf hoe Jesus se offer ons volkome vry maak. In een belangrike opsig is die “voltooi-sleutel” dus reeds vir ons gedruk. Jesus se dood het vir ons gedoen wat ons nie vir onsself kan doen nie. Hy het ons aanvaarbaar gemaak in God se oë toe ons ons geloof in Hom geplaas het. Dit is volbring! soos Jesus Self gesê het (Joh. 19:30). Tog, al is Sy offer volkome, groei ons vir die res van ons lewens in daardie geestelike werklikheid, naamlik heiligmaking, volgens die Hebreërskrywer.
Dis moeilik om te begryp dat Jesus reeds iets voltooi het wat nog tot volle uitwerking moet kom in ons lewe. In ons worstelinge is dit bemoedigend om te onthou dat Sy offer vir my – en vir jou – afgehandel is … selfs al is ons uitlewing daarvan in hierdie lewe steeds ’n voortgaande werk. Niks kan verhoed dat Sy bepaalde uiteinde bereik word nie – ons word “aan die beeld van Christus gelyk” (2 Kor. 3:18).