Een van die eerste gebede wat ek as ’n klein seuntjie geleer het, was: “Here, ek is ’n kindjie klein, hou my hartjie rein …” Ek het hierdie gebed by my ouers geleer en dit op my beurt vir my seun en dogter geleer toe hulle klein was. Dit het my as kind diep getroos om, voordat ek aan die slaap raak, my met daardie woorde in God se hande te plaas.

’n Soortgelyke gebed is netjies in die “gebedeboek” van die Bybel weggelê, naamlik die Psalms. Daar is Bybelse geleerdes wat beweer dat die frase: “In u hande gee ek my lewe oor” (Psalm 31:5), ’n gebed was wat voor slapenstyd aan die kindertjies in Jesus se tyd geleer is.

Jy herken dalk die gebed as Jesus se laaste uitroep aan die kruis. Jesus het egter ’n woord bygevoeg: Vader! (Lukas 23:46). Deur daardie Naam in die oomblikke voor Sy dood te bid, het Jesus Sy intieme verhouding met die Vader gedemonstreer en Sy volgelinge gewys op hul tuiste by Hom (Johannes 14:3).

Jesus het aan die kruis gesterf sodat ons die wonder van ’n verhouding met God as ons hemelse Vader mag belewe. Dit is so bemoedigend om te weet dat ons, op grond van Jesus se offerliefde, as God se kinders in Sy sorg kan rus! Ons kan sonder vrees ons oë toemaak, want ons Vader hou wag oor ons en het belowe om ons op te wek tot ’n lewe saam met Hom (1 Tessalonisense 4:14).