Terwyl ek saam met my man op pad was om takies af te handel, het ek deur die e-posse op my foon geblaai. Ek was verbaas oor ’n inkomende advertensie van ’n plaaslike oliebolkiosk aan die regterkant van die straat waarby ons so pas verbygery het. My maag het skielik van hongerte gerammel. Ek was verbaas hoedat tegnologie verkopers toelaat om ons in hulle winkels in te lok.
Ek het my e-pos afgeskakel en gedink aan God se konstante verlange om my nader te trek. Hy weet deurentyd waar ek is en wil graag my keuses beïnvloed. Ek het gewonder: Grom my hart van begeerte na Hom soos my maag by die gedagte aan oliebolle?
In Johannes 6, nadat Jesus die 5 000 op wonderbaarlike wyse gevoed het, vra die dissipels dat Hy hulle tog altyd die brood wat “aan die wêreld die lewe gee,” sal gee (vv. 33–34). Jesus antwoord hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie” (vs. 35). Hoe verstommend is dit nie dat ’n verhouding met Jesus ons in ons daaglikse lewe deurlopend kan voed nie!
Die advertensie het my liggaamlike begeerte aangespreek, maar God se voortdurende kennis van die toestand van my hart nooi my om my aanhoudende behoefte aan Hom te erken en die kos te ontvang wat net Hy kan bied.