Die boek Job verstrek bykans elke argument rondom die vraag oor pyn in die wêreld, tog lyk dit nie of die stryery Job veel baat nie. Hy is eerder in ’n verhoudingskrisis gewikkel as in ’n geloofskrisis. Kan hy God vertrou? Daar is iets wat Job bo alles begeer: die verskyning van die een Persoon wat sy miserabele lot kan verduidelik. Hy wil God Self ontmoet. Van aangesig tot aangesig.

Job se wens word uiteindelik vervul. God verskyn persoonlik (Job 38:1). Hy bereken Sy intrede met perfekte ironie – net toe Job se vriend Elihu besig is om te verduidelik waarom Job geen reg het om ’n besoek van God te verwag nie.

Nie Job of sy vriende is voorbereid op wat God te sê het nie. Job het weliswaar ’n lang lys vrae, maar dit is God en nie Job nie wat die vrae vra. “Maak jou reg vir die stryd: Ek sal vra, antwoord jy My” (vs. 3). God vee 35 hoofstukke van debatvoering oor die kwessie van pyn eenkant toe en lewer ’n grootse gedig oor die wonders van die natuurlike wêreld.

God se toespraak lê die ontsaglike verskil tussen die God van die hele skepping en ’n nietige mens soos Job bloot. Sy skouspelagtige teenwoordigheid beantwoord Job se grootste vraag: Is daar enigiemand daarbuite? Job kan slegs antwoord: “Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie; u wonderdade was te groot vir my …” (42:3).