Nabeel Qureshi het as ’n bekeerling tot Jesus boeke geskryf sodat sy lesers die aanhangers van die godsdiens waaruit hy kom, beter kan verstaan. Sy aanslag is vol eerbied, en sy hart, wat oorloop van liefde vir sy mense, kom duidelik na vore.

Qureshi het een van sy boeke aan sy suster opgedra, hoewel sy nog nie in Jesus glo nie. Die opdrag is kort maar kragtig: “Ek smeek by God om daardie dag dat ons Hom saam kan aanbid.”

Ons voel iets van daardie soort liefde aan wanneer ons Paulus se brief aan die kerk in Rome lees: “In my verbondenheid aan Christus praat ek die waarheid … en my gewete, wat deur die Heilige Gees gelei word, getuig saam met my dat daar by my groot droefheid en voortdurende hartseer is oor my broers, my eie volksgenote. Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus as dit tot hulle voordeel kon wees” (Romeine 9:2–3).

Paulus het die Joodse mense so liefgehad dat hy eerder van God afgesny wou wees, solank hulle net vir Christus aanvaar. Hy het begryp dat met dié dat hulle Jesus verwerp, hulle inderdaad die ware God verwerp. Dít het hom gemotiveer om by sy lesers aan te dring dat hulle die goeie nuus van Jesus aan almal sal vertel (10:14–15).

Mag ons ons vandag biddend toewy aan die liefde wat uitreik na húlle wat die naaste aan ons is.