Gedurende die Asiatiese Finansiële Krisis in 1997 het meer mense werk gesoek as wat daar beskikbare poste was. Ek was een van hulle. Ná 9 angsvolle maande het ek ’n betrekking as kopieskrywer gekry. Die maatskappy het egter kort daarna finansiële probleme ondervind en ek was weer sonder werk.
Was jy al in ’n soortgelyke posisie? Nes dit lyk of die ergste verby is, stort alles skielik in duie. Die weduwee van Sarfat kan dit beaam (1 Kon. 17:12). Vanweë ’n hongersnood was sy besig om die laaste maaltyd vir haar en haar seun voor te berei toe die profeet Elia iets te ete kom vra. Sy het huiwerig ingestem en God het ’n volgehoue voorraad meel en olie voorsien (vv. 10–16).
Toe raak haar seun siek … sieker, totdat hy ophou asemhaal! Die weduwee het uitgeroep: “Kyk wat het u my aangedoen, man van God! Het u na my toe gekom om my sonde aan die lig te bring en my seuntjie daarom te laat doodgaan?” (vs. 18).
Soms wil ons soos die weduwee optree: is God besig om ons te straf? Ons vergeet dat slegte dinge ’n gegewe is in ’n gevalle wêreld.
Elia het tot God gebid vir die seun, ernstig en opreg, en God het hom opgewek (vv. 20–22).
Mag ons, wanneer alles in duie stort, soos Elia besef dat die Getroue ons nie in die steek sal laat nie. Ons kan in God se planne rus terwyl ons om insig en begrip bid.