My professor het na die wyse waarop ek soms kon sloer om die volmaakte antwoord te kry, verwys, en gesê: “Moet nie dat perfek goed se vyand word nie.” Die strewe na volmaaktheid kan die risiko wat vir groei nodig is, in die wiele ry. Onvolmaakheid voorsien vryheid om te bly groei.
Paulus het verduidelik waarom ons nie na persoonlike volmaaktheid moet strewe nie: Dit kan ons na ons behoefte aan Christus verblind.
Hy het dit op ’n harde manier geleer. Na jare se strewe na ’n volmaakte gehoorsaamheid aan God se wet, het sy ontmoeting met Jesus alles verander (Galasiërs 1:11–16). Paulus het besef dat as sy eie pogings na geregtigheid voldoende sou wees, dit sou beteken “dat Christus verniet gesterwe het” (2:21). Slegs deur af te sien van sy eie pogings kon hy Jesus se inwoning werklik ondervind (vs. 20). Slegs in sy eie onvolmaaktheid kon hy God se volmaakte krag ervaar.
Dit beteken nie dat ons sonde nie moet weerstaan nie (vs. 17); dit beteken wel dat ons in ons geestelike groei nie op ons eie krag moet staatmaak nie (vs. 20).
In hierdie leeftyd sal ons altyd groei. Soos ons ’n konstante behoefte aan die enigste perfekte Een ervaar, maak Jesus ons harte Sy tuiste (Efesiërs 3:17). Gewortel in Hom is ons vry om dieper in die liefde “wat ons verstand te bowe gaan” te groei (vs. 19).