Van my vriende het gedeeltelike genesing ontvang maar sukkel steeds met pynlike aspekte van hulle siektes. Ander weer is van ’n verslawing genees, maar sukkel met gevoelens van ontoereikendheid en veragting. Dan wonder ek, hoekom genees God hulle nie ten volle nie – vir eens en vir altyd?

In Markus 8:22–26 lees ons van ’n blind-gebore man wat deur Jesus genees word. Jesus het die man eers die dorp uit gelei waarna Hy op die man se oë gespoeg en toe sy hande op sy oë gesit het. Die man sê toe dat hy mense soos bome sien loop. Daarna het Jesus sy oë weer aangeraak waarna hy “alles duidelik gesien” het.

Tydens Sy bediening het Jesus se woorde en dade dikwels die skares en Sy volgelinge verbaas (Mat. 7:28; Luk. 8:10; 11:14), soveel so dat baie van hulle omgedraai het (Joh. 6:60–66). Hierdie tweedelige wonderwerk het verwarring veroorsaak. Hoekom nie onmiddellik die man genees nie?

Ons weet nie hoekom nie. Maar Jesus het geweet wat die man op daardie oomblik nodig gehad het. So weet Hy ook wat ons vandag nodig het om ons in ons persoonlike verhouding met Hom nader aan Hom te trek. Alhoewel ons dit nie altyd sal verstaan nie, kan ons glo dat God in ons lewens asook in dié van ons geliefdes werksaam is. Hy sal aan ons die krag, moed en helderheid gee om in ons navolging van Hom te volhard.