Van al die artikels wat ek sedert 1988 vir Ons Daaglikse Brood geskryf het, is daar ’n paar wat ek baie goed onthou. Een so ’n artikel kom uit die middel negentig-jare toe ons drie dogters kampe en sendingreise onderneem het en ek en my sesjarige seun, Steve, dan kwaliteit tyd saam kon geniet.

Ons was op pad lughawe toe, toe Steve na my draai en sê: “Dit is nie lekker sonder Melissa nie.” Melissa was sy agtjaar oue suster en maat. Ons het nie een besef hoe hartverskeurend daardie woorde uiteindelik sou wees nie. Die lewe was werklik nie meer “so lekker” sedert Mell as tienderjarige in ’n motorongeluk oorlede is nie. Verloop van tyd kan wel die pyn verdoof, maar niks kan die pyn totaal wegneem nie. Tyd kan daardie wond nie genees nie. Maar hier is iets wat wel kan help: luister na, oordink en bewaar die vertroosting wat die God van alle bemoediging belowe.

Luister: “… deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan Sy ontferming nie” (Klaagliedere 3:22).

Oordink: “Op die dag van gevaar sal die Here my wegsteek in Sy huis” (Psalm 27:5).

Bewaar: “Dit is my troos in my ellende: dat U belofte my in die lewe hou” (Psalm 119:50).

Die lewe kan nooit weer dieselfde wees wanneer iemand vir wie ons lief is, weg is nie. Maar God se beloftes bring hoop en vertroosting.