Stel jou voor ’n ouer wat liefdevol oor ’n huilende kind buk en met woordjies soos “sjuut, shhh” die kind saggies probeer troos. Hierdie optrede en eenvoudige woorde is bedoel om angstige kleintjies te midde van teleurstelling, ongemak of pyn te kalmeer en stil te maak. Sulke tonele is algemeen en tydloos en meeste van ons was al aan óf die ontvangkant óf die gee van sulke uitdrukkings. Wanneer ek Psalm 131:2 oordink, is dit die toneel wat by my opkom.

Die taalgebruik van die Psalm dui daarop dat die skrywer, Dawid, iets wat tot ernstige nadenke aanleiding gegee het, ondervind het. Het jy al teleurstelling, neerlaag of mislukking wat tot diepe nadenkende gebed gelei het, ondervind? Wat doen jy wanneer jy deur lewensomstandighede ontmoedig word? Jy het miskien ’n toets gedruip, of jou werk verloor, of die einde van ’n verhouding beleef. Dawid het sy hart voor die Here uitgestort en in die proses eerlik selfondersoek gedoen (Ps. 131:1). Deur met sy omstandighede vrede te maak het hy, soos ’n kind wat by sy ma tevredenheid vind, rus en kalmte gevind (vs. 2).

Ons word soms deur veranderende lewensomstandighede ontmoedig. Tog kan ons hoopvol en tevrede wees in die wete dat daar Een is wat belowe het om ons nooit te verlaat of in die steek te laat nie. Ons kan ten volle op Hom vertrou.