Alhoewel dit mooipraat gekos het om my kinders te oortuig dat dit die moeite werd is om snorkel toerusting te gebruik om onder die oppervlak van die Karibiese See aan die kus van die eiland Tobago te kyk, was hulle in ekstase oor die skoonheid wat hulle gesien het toe hulle na die eerste duikslag opkom.

Omdat die oppervlak van die see net soos dié van varswatermere naby ons tuiste gelyk het, sou ons kinders die skoonheid wat onder die oppervlak versteek was beslis gemis het.

Die profeet Samuel het eenkeer na Betlehem gegaan om een van Isai se seuns as die volgende koning te salf. Hy was baie met die oudste seun, Eliab, se voorkoms beïndruk en het gedink dat hy die regte man is. Maar God het Eliab afgekeur en Samuel daaraan herinner dat Hy “nie na dieselfde dinge as die mens [kyk] nie. Die mens kyk na die uiterlike maar die Here na die innerlike” (1 Sam. 16:7).

Samuel vra of daar nog ander seuns is. Die jongste was afwesig want hy het skape opgepas. Hierdie seun, Dawid, is laat roep en God het Samuel opdrag gegee om hom te salf.

Ons takseer dikwels mense op hulle uiterlike voorkoms sonder om op hulle innerlike, soms verskuilde, skoonheid ag te slaan. Ons waardes verskil dikwels van dié van God. Ons mag egter groot rykdom vind as ons net die moeite doen om onder die oppervlak te kyk.