Katie moes as skooltaak ’n opstel met die titel: “My Volmaakte Wêreld” skryf. Sy het geskryf: “In my volmaakte wêreld … is roomys gratis, suiglekkers oral en die lug is altyd blou met hier en daar ’n wolk met ’n interessante vorm.” Toe neem haar opstel ’n meer ernstige wending aan. In haar wêreld, sê sy, “sal niemand met tuiskoms slegte nuus ontvang nie en niemand sal die draer van slegte nuus wees nie.”

Niemand sal ooit met tuiskoms slegte nuus ontvang nie. Is dit nie wonderlik nie? Daardie woorde dui daadwerklik op die oortuigende hoop wat ons in Jesus het. Hy “maak alles nuut” – Hy genees en transformeer ons wêreld (Openbaring 21:5).

Die Paradys is ’n plek van ‘geen’ – geen kwaad, geen dood, geen droefheid, geen pyn, geen trane (vs. 4)! Dit is ’n plek van volmaakte gemeenskap met God waar Hy deur Sy liefde gelowiges as Sy eie verlos en opgeëis het (vs. 3). Wat ’n wonderlike blydskap wag daar nie op ons nie!

Ons kan reeds ’n voorsmakie van hierdie werklikheid geniet. Soos wat ons daagliks gemeenskap met God nastreef en beoefen ondervind ons die blydskap van Sy teenwoordigheid (Kolossense 1:12–13). Selfs as ons nog teen sonde stry, kan ons, al is dit net ten dele, ons triomftog in Christus ervaar. Hy het die sonde en dood vir goed weggeneem (2:13–15).