My heel eerste werk was by ’n kitskos-restaurant. Een Saterdagaand het ’n man om my rondgedraai, en bly vra hoe laat ek klaarmaak. Dit het my ongemaklik gemaak. Terwyl dit al later word, het hy skyfies bestel, toe ’n drankie, sodat die bestuurder hom nie uitgooi nie. Hoewel ek nie ver weg gebly het nie, was ek bang om alleen deur ’n paar donker parkeerareas en ’n sanderige veld te stap. Uiteindelik, om middernag, het ek ’n oproep uit die kantoor gaan maak.
Die persoon wat geantwoord het – my pa – het sonder om twee keer te dink uit die warm bed geklim en was vyf minute later daar om my op te laai.
Die soort sekerheid wat ek gehad het dat my pa my sou kom help daardie aand, herinner my aan die versekering waarvan ons lees in Psalm 91. Ons Vader in die hemel is altyd by ons, om ons te beskerm en te versorg wanneer ons onseker, bang of in die nood is. Hy verklaar: “Wanneer hy my aanroep, sal Ek sy gebed verhoor;” (Psalm 91:15). Hy is nie net ’n plek waarheen ons kan hardloop vir veiligheid nie (vs. 1). Hy is die Rots, ons veilige vesting (vs. 2).
In tye van vrees, gevaar of onsekerheid, kan ons op God se belofte vertrou, dat wanneer ons na Hom roep, Hy sal hoor en by ons wees in ons nood (vv. 14–15). God is ons veilige vesting.