Ek en my vriend het op die sand gesit, naby die ewig-ritmiese oseaan. Terwyl die son sak, het golf na golf omgekrul, gewag en dan kabbelend na ons uitgestrekte tone gekom, om elke keer net kort te stop. “Ek is lief vir die see,” het sy geglimlag. “Dit beweeg sodat ek nie hoef nie.”
Wat ’n gedagte! So baie van ons sukkel om te stop. Ons doen, doen, en gaan, gaan, op ’n onbekende manier, bang dat as ons die pogings staak, ons sal ophou bestaan. Of as ons ophou, ons blootgestel kan word aan die ewig-teenwoordige werklikhede, waaraan ons so hard werk om te ontsnap.
In Psalm 46:9-10, vertoon God Sy alvermoënde krag en stel Sy almag ten toon. “Kom kyk wat die Here gedoen het … die oorloë oor die hele aarde laat Hy ophou, pyle en boë verbreek Hy, spiese slaan Hy stukkend, oorlogswaens verbrand Hy met vuur.” God is ’n besige God, wat werk om kalmte te bring in die chaos van ons dae.
En dan, in vers 11, lees ons: “Bedaar en erken dat Ek God is.”
Natuurlik is dit moontlik om God te ken, terwyl ons heen en weer hardloop. Maar die psalmdigter se uitnodiging om briek aan te draai, nooi ons na ’n ander soort kennis. Die wete dat ons kan stop – en steeds bestaan – omdat God nooit stop nie. ’n Wete dat dit God se krag is wat ons die uiteindelike waarde, beskerming en vrede gee.