Die lewe kan ons soms baie stief behandel. Ander kere weer gebeur die wonderbaarlike.
Drie jong mans wat as gevangenes in Babilon aangehou is, het voor die vreesaanjaende koning van daardie land gestaan en dapper verklaar dat hulle onder geen omstandighede die reuse beeld van goud wat bokant hulle uittroon sal aanbid nie. Saam het hulle verklaar: “Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u majestiet se hand. Selfs as Hy dit nie doen nie moet U weet dat ons … die goue beeld … nie sal aanbid nie” (Dan. 3:16-18).
Hierdie drie manne – Sadrag, Mesag en Abednego – was in die brandende oond gegooi maar God het hulle op wonderbaarlike wyse gered. Hule hare was nie eens geskroei nie en hulle klere het nie na rook geruik nie (vv. 19-27). Alhoewel hulle gereed was om te sterf, was hulle vertroue in God onwrikbaar – “selfs as” Hy hulle nie sou red nie.
God verlang dat ons aan Hom sal vashou selfs as ’n geliefde nie genees word nie, selfs as ons ons werk verloor, selfs as ons vervolg word. Soms red God ons van gevaar wat ons bedreig, soms nie. Maar die waarheid waaraan ons altyd kan vashou is dit: “Die God wat ons dien het die mag om ons te red,” Hy het ons lief en is met ons in elke beproewing, elke “selfs as.”