As kinders het ek en my twee sussies daarvan gehou om langs mekaar op ma se sederhout-linnekis te sit. Ons woltruie en ouma se borduur- en hekelwerk was in die kis bewaar. Ma het baie waarde geheg aan die inhoud van die kis en het op die reuk van die sederhout staatgemaak om motte af te skrik en weg te hou om sodoende die inhoud van die kis te beskerm.
Meeste aardse besittings kan maklik deur insekte of roes vernietig word of selfs gesteel word. Matteus 6 moedig ons egter aan om eerder op goed met ewigheidswaarde te fokus as op goed met ’n beperkte lewensduurte. My ma het tydens haar leeftyd nooit baie aardse besittings opgegaar nie, maar ek glo dat daar wel ’n skat in die hemel op haar gewag het (vv. 19-20).
Ek kan onthou hoe baie lief sy vir God was en Hom stilweg gedien het. Sy het haar gesin getrou versorg, kinders by die Sondagskool geleer, ’n vrou bygestaan wat deur haar man verlaat is, ’n jong vrou getroos wat haar baba verloor het. En sy het gebid … selfs nadat sy blind geword het en aan ’n rolstoel gekluister was, het sy volhard om ander lief te hê en vir hulle te bid.
Ons ware skat word nie gemeet aan wat ons versamel nie, maar wel waarin of in wie ons tyd en geesdrif belê. Watter soort “skatte” versamel ons in die hemel deur Jesus te volg en te dien?