In Oxford, Engeland, is daar ’n groepie mense wat elke jaar op 1 Mei om 6vm bymekaarkom om die lente te verwelkom. Dan sing die Magdalen College Koor vanaf die boonste vlak van die Magdalen Toring, terwyl duisende in afwagting uitsien na dagbreek onder die geklank van sang en klokkespel.
Soos hierdie wagtendes op die dagbreek wag, wag ek ook dikwels. Soms wag ek vir antwoorde op gebede, soms vir God se leiding. Omdat ek nooit weet presies wanneer God sal antwoord nie, leer ek in die tussentyd om afwagtend te wag. In Psalm 130 blyk dit duidelik dat die Psalmskrywer in diepe nood verkeer en dat die omstandighede waarin hy hom bevind soos die donkerste nag voel. Maar te midde van sy probleme kies hy om in vertroue op God te wag. “Ek wag op die Here, meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre” (vs. 6).
Sy afwagting op God se getrouheid gee aan die Psalmskrywer hoop om te verdra en te verduur te midde van sy lyding. God se talle beloftes soos vervat in die Skrif stel hom in staat om hoopvol en afwagtend te bly, al het hy nog nie die eerste ligstrale gesien nie.
Laat dit vir jou ’n aanmoediging in donker tye wees. Dagbreek kom – indien nie in hierdie lewe nie, dan in die hemel! Bly in die tussentyd wagtend op die uitkoms wat die Here sal bied en moenie moed verloor nie.