Dit is stikdonker wanneer Ah-pi se dag begin. Ander in die dorp sal spoedig wakker word om na die rubberplantasie te gaan. Rubbermelk is een van die hoofbronne van inkomste vir die mense van die dorpie Hongzhuang in China. Vir die grootste moontlike lateksoes moet die bome soggens vroeg, voor dagbreek, getap word. Ah-pi werk saam met die rubbertappers, maar eers sal sy tyd saam met God deurbring.

Ah-pi se pa, haar eggenoot en enigste seun is reeds oorlede, en sy – tesame met haar skoondogter – sorg vir ’n bejaarde moeder en twee jong kleinseuns. Haar verhaal herinner my aan ’n ander weduwee wat op God vertrou het …

Dié weduwee se man is oorlede en het haar met skuld agtergelaat (2 Kon. 4:1). In haar nood het sy haar, deur Sy profeet Elisa, na God gewend. Sy het geglo dat God omgee en dat Hy iets omtrent haar dilemma kon doen. En Hy hét. Hy het op wonderbaarlike wyse in haar uiterste nood voorsien (vv. 5-6). Dieselfde God het ook vir Ah-pi gesorg – hoewel minder opspraakwekkend – deur haar handearbeid, die opbrengs uit die grond en die gawes van Sy mense.

Hoewel die lewe verskeie eise aan ons kan stel, kan ons altyd uit God se krag put. Ons kan ons sorge aan Hom toevertrou, doen wat ons kan, en Hom toelaat om ons verstom te laat oor wat Hy met ons situasie kan doen.