Die nooddienste van Carlsbad, Kalifornië, het ’n vrou met ’n Australiese aksent en wat nie kon onthou wie sy was nie, te hulp gekom. Omdat sy aan geheueverlies gely en nie haar ID by haar gehad het nie, kon sy nie haar naam onthou of waarvandaan sy kom nie. Met die hulp van dokters en die internasionale media is haar gesondheid herstel, haar storie vertel en is sy met haar gesin herenig.

Nebukadnesar, die koning van Babilonië, het ook vergeet wie hy was en waarvandaan hy kom. Sy geheueverlies was egter op ’n geestelike vlak geleë. Hy het die koninkryk ontvang, maar die roem vir homself toegeëien. Hy het vergeet dat God die Koning van die konings is en dat Hy hom alles wat hy gehad het, gegee het (Dan. 4:17, 28-30).

God het die koning se verstand aangeraak en hy is uitgestoot na die velde om saam met wilde diere te lewe en te wei (vv. 32-33). Ná sewe jaar het hy na die hemel opgekyk en het sy geheue oor wie hy was en Wie hom sy koninkryk gegee het, teruggekom. Deurdat sy verstand herstel is, kon hy verklaar: “Ek, Nebukadnesar, prys en eer en loof die Koning van die hemel” (vs. 37).

Hoe is dit met ons gesteld? Hoe dink ons oor onsself? Waar kom ons vandaan? En aangesien ons so geneig is om te vergeet, op wie anders as die Koning van die konings kan ons reken om ons te help onthou?