“Ons wag vir die vis om te byt of vir die wind sodat ons vlieër kan vlieg … of vir Vrydagaand … Almal wag net” – het dr. Seuss, die skrywer van vele kinderboeke, gesê.
Wag is die spil waarom die lewe draai, tog is God nooit haastig nie – of so wil dit voorkom. “God ken Sy uur en oponthoud,” lui ’n ou, betroubare spreuk. Daarom wag ons.
Dis moeilik om te wag. Ons speel met ons duime, skuifel ons voete, onderdruk gape, slaak lang sugte en in ons binneste broei die frustrasie. Waarom moet ek saam met die vreemde skepsel lewe, die vervelige werk, die vernederende gedrag, die gesondheidskwessie wat net nie opklaar nie? Waarom verhoor God nie my gebede nie?
God antwoord: “Wag ’n bietjie en jy sal sien wat Ek gaan doen!”
Wag is een van die lewe se beste leermeesters, want terwyl ons wag, leer ons die deug van … wag! Wag terwyl God in ons en vir ons werk. Terwyl ons wag, ontwikkel ons die vermoë om uit te hou, om op God se liefde en goedheid te vertrou – selfs al verloop dinge nie volgens óns planne nie (Ps. 70:5).
Om te wag is egter nie ’n onplesierige, tandknersende gelatenheid nie. Ons kan ons “vreugde in die Here” vind terwyl ons wag (Ps. 37:4). Terwyl ons wag, hoop ons, want ons weet God sál ons verlos – in dié lewe of in die ewigheid. God is nooit haastig nie. Hy is altyd betyds.